“Therismos Kairos” Mission

Home I Contact us I Back

 

“…Laat hom hierdie jaar nog staan…”

 

 

Ons betree ‘n nuwe jaar. Die oue is verby. So dink ons soms. Maar dit is nie heeltemal verby nie. Dit gaan eendag weer herroep word. Die jare mag vir ons heeltemal agter lê, maar dit moet weer eendag opstaan as getuies en ‘n getuienis lewer op daardie groot dag.

 

Dit is dwaas om te lewe asof hierdie lewe al is waaroor die lewe gaan. In Lukas 13:7-9 lees ons:

“Toe sê hy vir die tuinier: Kyk, drie jaar kom ek om vrugte aan hierdie vyeboom te soek en ek kry niks nie; kap hom uit. Waarvoor maak hy die grond nog onvrugbaar?  Maar hy antwoord en sê vir hom: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan totdat ek om hom gespit en mis gegooi het. As hy dan vrugte dra, goed; maar so nie, dan kan u hom anderjaar uitkap

 

Dinge gebeur agter die wete van die mens. Job was nie bewus van die dinge wat agter die skerms aangegaan het nie. Daar is ‘n tyd wat elke boom neem om tot volheid te kom. Maar wanneer daardie tyd gekom het, word iets aan daardie boom gesoek. Ek het ‘n appelkoos boompie so 7 jaar terug by iemand gekry. Hy het vanaf ‘n appelkosie pit gegroei. Hy is nie ingeent of niks nie, maar natuurlik grootgeword. Hy staan nou al byna  sewe jaar in die grond. Van verlede jaar af het ek begin om te kyk vir vrugies aan hom, toe die lente gekom het, maar hy het nog niks gedra nie, hierdie jaar gaan ek weer kyk. Ek soek vrug, en sy tyd vir vrug het nou naby gekom.

Jou lewe is ’n planting van die Here hier op aarde. Hy het jou nie weggeneem die dag toe Hy uit genade jou siel gered het nie. Hy het jou hier gelos om iets voort te bring. Jy staan miskien al baie jare hier en al wat jy dra is net blare, ’n mooi lewe, goeie getuienis van ’n gesonde boom, maar geen ware “vrug” nie. Baie bring niks werkliks voort nie.

 

“ Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.

Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het.   Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.

Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.

As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.” Johannes 15:2-7

 

Ons is nie hier om karre te ry, huise te bou, tuine te plant, pap te eet, ensomeer nie. Ons is hier agtergelaat om op te groei in Hom wwat die Hoof is, en vrug voort te bring! Vrug beteken om te dupliseer om van jou sort voort te bring. Wanneer ‘n boompie vrug dra, is dit dat hy himself weer voort bring. Paulus se baie bring vrug vir die dood voort!

 

“Watter vrug dan het julle toe gehad van die dinge waaroor julle jul nou skaam? Want die uiteinde daarvan is die dood.   Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe. “ Romeine 6:21-22

 

Ons kan hier staan en vrug dra vir die dood

Nog ‘n jaar is vir ons gegee. Hy gaan weer in jou lewe inbou, dit omspit, alles deurmekaar krap dinge inbring wat jou eintlik moet sterk maak sodat jy vrug kan voort bring. As al wat ons dra net blare is, dan vervul ons nie die doel hoekom Hy ons hier geplant het nie. Ons is hier om Hom te verheerlik, Sy Naam te dra en sodat Christus in ons gevorm kan word. Ons moet Hom as te ware voort bring. As Hy in ons is moet Sy lewe in ons “voortgebring” word in ander.

 

Die jaar is nog ‘n jaar. Hy kom na jou lewe en soek vrug. As Hy nie vind nie maak Hy jou skoon, krap dinge deurmekaar, los niks onaangeraak nie, spit diep, en werk dinge in wat ons lewens moet verruik, maar dit is dinge wat onaangenaam mag wees. Daarna los Hy ons sodat dit in ons vrug kan voort bring. Maar as dit net dorings en distels voort bring is dit net goed vir die verbranding. Laat ons vrees dat ons nie onvrugbaar gevind word en ons bruikbaarheid hier verloor nie.

 

“Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees.” Johannes 15:8

 

Dit is die kenteken van die wat waarlik volg of nie. In die wat ware dissipels is, vind jy vrug, Christus gelykvormigheid, ‘n lewe soos die koringkorrel, vir die lewe van ander! MAg die Here ons hierdie jaar skoonmaak om Sy lof en Beeld te dra en om die deugde te verkondig van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot Sy wonderbare Lig.

 

Mag ons nie voor Hom met leë hande verskyn nie! ‘n Christus gesentreerde vrugbare jaar word u toegebid!

 

Top