Home I Contact us I Back
Misinterpretasies!
‘n Mens kan vandag beswaarlik glo wat in die velde van die wêreld besig is. Terwyl baie in die Naam van Christus werk, is baie onbewus van die tragiese effek wat dit op die sieleoes bring. Valse fondamente is aan die orde van die dag en alles gaan omtrent deur in die Naam van die Here. Wat verder tragies is is die toestand van die wat Christus bely. Dit kos werklik vandag nie baie as jy oë in jou oogkaste het om dit raak te sien nie.
Hierdie wêreld was nog nooit so voorgestel aan die kind van die Here soos in hierdie tyd nie. Salig onbewus van die toestand verklaar baie dat die Here hul seen, dat hulle total toegewyd is aan die Here, maar wat met dieselfde mond Christus nie kan openlik bely of Sy deugde kan verkondig wat ons uit die duisternis geroep het tot Sy wonderbare lig nie.
“Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. “ Openbaring 3:17
Dit is die toestand: mense se hulle is volkome toegewyd, hulle dien die Here met hulle hele harte, daar is geen gebrek nie, wel sommige mag dalk as jy nou ingaan op wat hulle sê, sê daar mag dalk ‘n paar dingetjies wees wat miskien nie heeltemal in plek is nie, maar wie het nie. Hulle sal hulleself verskoon met ander se tragiese verhoudings en tekortkominge. Dit is wat die Here Jesus sê wat die kerk van die laaste dae sal sê: “Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie…”
Wat beteken dit? Mense sal na hulle welvaard en voorspoed kyk en hulle geestelike lewe en toestand daaraan koppel! Mense sal na die materieële kant van die lewe kyk en daarmee ‘n verklaring maak van hulle sogenaamde “geloof” dat hierdie dinge die seën van God op hulle lewens openbaar. Dit is die toestand van die grootste aantal Christene vandag.
Hulle meet hulle geestelikheid en hulle verhouding met die Here, hulle geloof, ens, aan hulle finansies, aan hulle fisiese vooruitgang, aan hulle bankrekening en mooi tuine en huise, aan hulle karre en besittings. Jesus sê die christene van die laaste dae sal hulle christenskap en verhouding met God meet aan materieële, finansieële ensomeer se vooruitgang! As jy vandag die nuutste tegnologie het, of die of daardie sort kar ry, is so ‘n huis ensomeer bly dan word daar een of ander geestelikheid daaraan gekoppel. Dit is die tragiese toestand vandag.
Die hele waardestelse is vandag omgedraai. Paulus sê ons moet ligte wees wat skyn te midde van ‘n krom en verdraade geslag. (Fil 2:15) Verdraai beteken dat mense dinge sal misinterpreteer. Hulle sal nie ‘n ware en werklike interpretasie van dinge hê nie, maar dit voorhou as iets wat dit nooit beteken nie.
Dit is hoe mense vandag na hulle lewens kyk en veral die kerk van die laaste dae. Hulle sal na hulle voorspeod en vooruitgang ens kyk en hulle geestelikheid daaraan meet terwyl duisende siele om hulle sterf sonder God en sonder hoop, hulle salig voel met hulle Bybels en gemeentes en Bybelstudies!
Ek wonder wat sal ons dink van iemand wat in sy gemakstoel lê met sy Bybel in diepe bepeinsing en meditasie langs ’n openbare swembad, terwyl reg voor hom iemand besig is om te verdrink en snap na sy laaste asem!? Wat sal u van so persoon dink? Iemand besig om reg voor hom te sterf terwyl dit hom hoegenaamd nie beweeg om iets daaraan te doen nie! Miskein voel hy jammer vir die arme drenkeling, miskien verskoon hy himself dat hy nie regtig self goed kan swem nie, en dat die arme drenkeling dalk hom kan aftrek en hy dalk saam sal vergaan nie! Wat daarvan? Miskien sal hy sê maar die Here het my al hierdie goed gegee om te geniet en myself te verryk, terwyl die hele Boek wat hy so ingedagte besig is om te lees en te bepeins dit veroordeel.
Hoe kan God se liefde in ons bly of groei of volmaak word as ons roekeloos en met geslote harte en oë na siele om ons kyk en hulle ewige saligheid verontagsaam?
Red die wat na die dood gesleep word, en die wat na die slagbank wankel, hou hulle tog terug! As jy sê: Kyk, ons het dit nie geweet nie! —sal Hy wat die harte toets, dit nie merk nie? En Hy wat let op jou siel, Hy kom dit te wete. En Hy vergeld die mens na sy werk. “ Spreuke 24:11-12
Maar ons sê die seen van die Here rus op ons! Ons meet dit nie aan die ware toestand van die hart nie, maar aan die uiterlike voorspoed en rykdom! Hoe dwaas en onverstandig! ‘n Misinterpretasie van die ware toestand!
Wat in die oë van die mense hoog vandag geag word is in die oë van die Here God ‘n gruwel: ”Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ‘n gruwel voor God.” Lukas 16:15
Dit wat jy sê jou toestand is en wat dit werklik is mag verskil. Jesus sê Christene sal hulle geestelike toestand meet aan hulle rykdom en hulle materieele voorspoed in die einde, te midde van ‘n diepe onkunde oor hul ware toestand! “......jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. “ Openbaring 3:17
Wat ‘n skokkende verklaring! Kan dit wees dat ‘n mens so oortuig is en so seker is van sy eie toestand dat hy/sy salig onbewus is van hul ware toestand! Jesus sê “ jy WEET NIE DAT DIT JY is nie ….”
Jy is nie wat jy sê jy is nie! Jy is nie wat jy dink jy is nie! Jy is dan besig met Hom, met Bybelstudies, met gemeentelike aktiwiteite, al die broers is dan so positief en besig met dieselfde as wat ek is, sekerlik kan ons nie verkeerd wees nie, ons is dan so seker met die Here se dinge! Baie soos Simson, salig onbewus van hulle ware toestand omdat hulle dit meet aan hulle fisiese seen en vooruitgang! Jesus daarenteen meet geen mens daaraan nie.
In Openbaring 2 lees ons total van ‘n total ander toestand, maar met ‘n prys van die Here:”Ek ken jou werke en verdrukking en armoede maar jy is ryk…” (v9) ek ken jou armoede, maar jy is ryk! Wat ‘n paradox. Mense wat se hulle is ryk en wat hulle geestelikheid meet aan hulle rykdom, maar hulle is arm en ellendig en beklaenswaardig, en hier mense in fisiese armoede, maar wat ryk in die Here is!
Die verdraaide konsepte onder christene mag nie verskoon word nie, die misinterpretasies van geestelike realiteite moet weer didelik gedefinieër word, sodat ons onberispelik kan wees te midde van ‘n krom en verdraaide christelike geslag!
In Jakobus vind ons dieselfde saak. Mense het aan die uiterlike voorkoms die innerlike toestand gemeet. Die christene in Jakobus se tyd het net soos vandag die man op sy fisiese vooruitgang en “seëninge” gemeet. Dit was ‘n misinterpretasie van feite. Feit is dit openbaar hoegenaamd nie geestelikheid en geloof nie. Dit word nie daaraan gemeet nie! Sommige is van mening dat die Ou Testament dit duidelik openbaar dat as jy met God in ‘n regte verhouding staan Hy jou fisies seen en laat voorspoedig wees. Dit is ‘n wanbegrip wat duidelik in die lewe van die Here Jesus weersreek word. Waar die Ou Testament fisiese seen was is die Nuwe Testament verdrukking, fisiese swaarkry en selfs “diepe armoede” die teken van die dissipels en vroë kerk!
“...die genade van God wat aan die gemeentes … geskenk is, dat onder baie beproewing deur verdrukking hulle oorvloedige blydskap by hulle diepe armoede oorvloedig was in hulle ryke milddadigheid.” 2 Korinthiers 8:1b-2
Dit is die “genade” van God wat aan die kinders van God geskenk is, dit is die teken van die “genadetyd” waarin ons nou lewe!
Luister na Jakobus die dienskneg van Jesus Christus: “...broeders, laat julle geloof in onse Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, nie wees met aanneming van die persoon nie. Want as daar in julle vergadering ‘n man inkom met goue ringe aan die vingers, met ‘n pragtige kleed aan, en daar kom ook ‘n arm man in met vuil klere aan; en as julle opsien na hom wat die pragtige kleed dra, en vir hom sê: Gaan u op hierdie goeie plek sit, en vir die arme sê julle: Gaan jy daar staan of hier onder my voetbank sit— het julle dan nie by julleself onderskeid gemaak en regters met verkeerde oorlegginge geword nie? Luister, my geliefde broeders—het God nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie? Maar julle het die arm man oneer aangedoen. Is dit nie juis die rykes wat julle oorweldig en julle voor die regbanke sleep nie? Is dit nie hulle wat die edele Naam belaster wat oor julle aangeroep is nie? “ Jakobus 2:1-7
Hierdies vir wie Jakobus skryf het mense se geestelikheid en geloof aan hulle uiterlike rykdom en klaarblyklike seën gemeet. Johannes en Petrus het gesê: “silwer en goud het ons nie, maar wat ons het in die Naam van Jesus Christus staan op en loop ….” maar vandag se christen is presies omgedraai, silwer en goud baie, maar geen krag nie, kragteloosheid in die gebed, in die getuienis, in die oorwinning oor sonde, oor allerhande magte, geen krag nie, maar finansieël en materieël baie sterk!
Daar was in die 1800’s ‘n Christen wat baie effektief in die werk van die Here was om ander uit die bande van satan te help. Hy was bekend vir sy heilige en toegewyde lewe, ten spyte van min. Sy lewe het bekend geword by die keiser wat hom laat roep het om na sy lering en boodskap te luister. Die keiser was baie in sy skik en het hom goud en silwer gegee wat hy met blydskap aanvaar het. Terug by sy huis het hy ‘n stuk land en huise gekoop om die lewe bietjie meer gemaklik te maak.
Soos baie in die verlede gebeur het, was mense wat duiwel besete was vir hom gebring. Die Christen het die bose gees beveel” “gaan uit die man uit!” Die bose gees het terug gepraat: “ek sal jou nie gehoorsaam nie!” Nog nooit het hy dit gehoor of so iets teegekom nie, waarop hy toe verbaas vra: “hoekom gehoorsaam jy my nie?” Die demon het geantwoord: “Abandoning your sole preoccupation with God, you have become like us, Therefore I don’t obey you!” Richard Wurmbrand het gesê: “A rich church is powerless in the fight against the devil. So is a rich Christian. A Christian can administrate great riches, but only on the condition that they are not his, but God’s, who has given him the gift of multiplying and using them for His glory.”
Paulus het vir Timotheus gesê dat hy ‘n spesifieke Bybelstudie moet hou met die “rykes” “...dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, en vir hulle ‘n skat weglê, ‘n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf” 1 Timotheus 6:17-18
Wat dink jy van daardie man langs die swembad met sy Bybel op sy gemakstoel? Moenie jouself verskoon nie. Dink deeglik aan al hierdie dinge voordat jy geld en tyd spandeer wat jy glo eintlik joune is!
Wat is die antwoord vir die toestand? Jesus sê ware rykdom word verkry wanneer mense met Hom onderhandel.
“Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien. “ Openb 3:18
Dis tyd om besig te raak met die Here Jesus en by Hom te hoor wat dit jou gaan kos om die werklike rykdom te besit. Geloof wat die toets sal deurstaan, ware heiligheid en reinheid van hart sodat jy God kan sien!